
Ek en die musiek
My liefde vir musiek het op 'n baie jong ouderdom
begin. Te lank terug om te onthou hoe oud ek was.
Sê maar so drie of vier. Iewers in die laat
sewentigs. Altwee my oumas het orrels in hulle
huise gehad. Elke keer as ons gaan kuier het, het
ek die orrel geslaan. Om potte en panne te slaan
het ook gewerk.
In standerd 6 het ek na 'n tannie toe gegaan om
formele lesse te kry. Die orrel natuurlik. Dit het 'n
vol twee sessies gehou en toe sê ek vir my pa dis
sommer @$@. Hy sê toe dis OK, ek hoef nie weer
te gaan nie. Die lewe was "sweet".
Op hoërskool, het ek net soos enige ander kind te
veel tyd spandeer om na musiekvideos te kyk. Die
verskil was egter dat ek nie net geluister het nie,
maar geleer het. Ek het gefokus op die struktuur en
samestelling van liedjies. Ek het probeer agterkom
wat elke instrument doen, hoe hard, waar, hoekom,
ens. Ek het agtergekom elke instrument het 'n
werk. Alles het sin gemaak.
My pa het my 3 "chords" op sy ou kitaar gewys. A, D
en E. My niggie het my nog twee geleer, C en G.
Toe koop my ma vir my 'n Casio keyboard (een van
daai klein, maar mooies). Dit was assof ek 'n hele
band gehad het. Die lewe was alweer "sweet",
maar die keer is die liedjieskrywer gebore. Dit het
my 'n halfuur gevat om my eerste liedjie te skryf.
Ek het probeer om my buddies te oortuig (om hulle
ouers te oortuig) om instrumente te koop sodat ons
'n band kan begin. Dit het nie so lekker uitgewerk
nie. Bekker het darem 'n kitaar gekry en Theo ook
'n klein keyboard.
Die eerste recording sessie was in 1989 by die
SAUK. Ek was in standerd 8 en heeltemal op my
senuwees. Toe oortuig ek weer vir Bekker om
saam te gaan sing. Ek het die keyboard gespeel
en toe die kitaar en toe sings hy saam my.
Drie liedjies. Ek was baie trots op ons werk.
So het ek aangehou liedjies skryf tot ek Potch toe is
vir so bietjie SWOT werk. Barries het ook 'n klein
Casio keyboard van sy eie gehad. Ek het my pa se
ou kitaar gespeel. "The Clan" word gebore. Martin
op vocals, William op drums en Gretha op bass,
Barries op keys en ek op kitaar. Ons het oral
gespeel waar enige iemand ons toegelaat het,
kofiewinkels, restaurante, Burbouns, die
studentesentrum en parties. Die polisie en ander
kwaad ouens met gewere wat se vrouens nagskof
by die hospitaal werk, het ons baie keer kom
probeer stil maak. Ons het demos opgeneem by
Sunset Studio, SABC and Downtown Studio. Nolla
join toe die band en toe speel ons op straatfeeste,
funksies, enige plek.
Toe moes ons eweskielik grootword, want vyf jaar
se geswot moes een of ander tyd tot 'n einde kom.
So gat hy maar.
Die liefde vir musiek het egter net bly groter word en
ek wil tog glo dat die liedjies met tyd ook beter
geword het.
By the way, kyk uit vir "Luitenant X". My ou
bandmaatjies begin weer 'n ding roer daar in
Stilbaai.


Herman Steenkamp
Biografie